Soos tevore deel ek net eie gedagtes, eie gewaarwordinge hier met julle. Ek staan geensins in oordeel oor enige mens of geloof, aanvaar asseblief die skrywe in die gees wat dit gegee word.
Ek behoort aan geen aardse kerk of instansie, verkondig niemand se aardse oortuigings of interpretasies, slegs my eie.
Ek vra nie jy moet my glo of saam met my stem op enige stelling wat ek maak nie, ek deel net, eie gewaarwordinge, eie interpretasie in my eie soeke na die groot waarhede van die heelal, die groot waarhede van YHWH, Yeshua en die Ruach Ha Kodesh, want Hy is die Waarheid vir my.
In my soeke na hierdie Waarheid na my verlossing, het al wat ’n gelowige was met wie ek gesels het, die volgende goeie raad vir my gegee “Jy moet strewe om te lewe soos Yeshua gedoen het wyl Hy op die aarde was, sodat Hy vir ander mense sigbaar raak in jou”.
Ek het hierdie ter harte geneem en begin soek, self begin soek.
Ek glo hart en siel dat dit die heel beste raad in die hele wêreld is, om te strewe om so smetteloos te wees soos Yeshua, nie dat dit menslik moontlik is nie, want ek is vlees soos jy. Ons is sondig, almal van ons, maar ons kan strewe, ons kan probeer, ons kan soek, ons kan ons beste gee.
Abba Vader sê vir ons Hy toets die hart en Hy toets die niere, Hy ken jou uitgaan en jou inkom, jou opstaan en jou gaan lê, Hy ken elke gedagte (nog voor dit by jou opkom) en elke begeerte, weet wie jy is, antwoord jou voordat jy vra.
Solank Abba in jou hart kan kyk en sien dat jou soeke en strewe opreg is, glo ek dat Hy jou sal be-oordeel volgens die Lig wat in jou is, Hy weet of jy opreg is, Hy weet of jy eerlik is, Hy ken jou elke gedagte en bedoeling.
Ek moet julle eerlik sê, ek het die Drie-enigheid waarvan christene gepraat het, nie verstaan nie, verstaan dit nou nog nie, die Drie-enigheid was deel van my okkultiese / sataniese aanbidding nie van YHWH nie, ai , konsternasie en onbegrip was baas. Ek het glad niks van my Skepper geweet nie, vir my in my donker kennis was dit net Een met ’n Seun, en sy mense het Hom aangespreek as G/d, H/re of J/sus.
Soos ek my g/d aangespreek het as G/d en H/re, net gedink Hy het verskillende name en nie geweet Hy is Gees nie, ek meen ek was geleer Hy bly in die hemel baie ver van hier en Hy gooi almal in die hel, as jy ’n wind los is jy reguit hel toe, fire en brimstone en jy sal braaaaand sussie, want Hy is WRAAK en baas van alles en Satan bly op die aarde, wie wil nou so wraakgierige en wrede G/d aanbid en dan het die “kerke” die cheek om op sulke geborduurde lappies te skryf “G/d is Liefde”, watse kamtige liefde as alles hellfire en brimstone is?
En Satan was so mooi om na te kyk, so verloklik en ai die wêreld is so lekker en die mag oor ander mense so verloklik dit was so eenvoudige keuse, of brand in die hel of dien Satan, Satan het veel lekkerder geklink en gevoel en gedoen, so vir my op ouderdom 13 was hy die voorhandliggende keuse, ek meen, dit was mos die Skepper se skuld dat my lewe so verrot was, vir my was dit Sy skuld en ek was baie kwaad vir Hom vir 40 jaar was ek so kwaad vir Abba. Die was my begrip van my Skepper op 52.
In die begin van my pad, nadat ek my rug op die mens se kennis en begrip gedraai het, het ek baie geleer uit die Ou Testament, so asof daar eers vir my ’n fondasie gebou is en toe die fondasie in plek is, het Abba my voorgestel aan Sy Seun, Yeshua, die Een by wie se Naam ek verlos is, die Een wat die prys betaal het vir my met Sy Bloed aan die folterpaal, die Woord wat Vlees geword het, geseënd is Hy! Ek het ware bevryding en ware verlossing gevind in Sy Naam, Yeshua en in geen ander Naam nie.
My demoonuitdrywing is gedoen in die ander wêrelse naam, maar daar staan so geskrywe dat hulle duiwels sal uitdryf, so ook wat Sy antwoord gaan wees in die laaste dag wanneer hulle Hom aanroep, lees dit maar, dit is daar in die Lewende Boek geskrywe vir jou en vir my om te lees, wie is die “hulle” wat uitdrywing doen in die wêreld se naam, vir wie gaan Hy sȇ: Ek ken jou nie? Die een het my baaaaaie diep laat dink en ek het my antwoorde gekry en ek vertrou jy sal joune ook kry as jy hom soek.
My ware bevryding en verlossing, die laaste grens tussen donker en Lig wat ek moes oorkom, die geboorte van die nuut beklede mens het gekom vroeg in die sewende maand 2008 by die aanvaarding van Sy Naam en by die aanroep daarvan, daar het die finale skeiding plaasgevind tussen die vrou wat ek was en die vrou wat ek nou is deur Sy Guns en Sy Liefde, daar het Hy gespreek, Talita Koemi, dogtertjie Ek sê vir jou staan op, en ek het dankie my Vader.
Wie is Yeshua, wie is hierdie Seun van die Mens, Verlosser, Raadsman, Leidsman, Advokaat, Regverdige Regter, Vredevors, Alpha, Omega, Aleph, Tav, Begin, Einde, Maker, Man?
Ek het begin soek in die Skrif na die gesig van Yeshua, wou weet wat Hy alles gedoen het, sodat ek kon strewe om soos Hy te lewe wyl ek nog in die ondermaanse my pad uitstap, wat is dit wat ek moet doen en weet en begryp van Hom? Sou dit vir my as vlees moontlik wees om Hom enigsins in Sy Perfeksie na te volg, was daar hoop vir my?
Hierdie vrae is vir my be-antwoord op allerlei verrassende wyses, ons Skepper werk so, Hy laat ’n kind nooit beskaamd staan vir ’n antwoord nie. Hy belowe Hy sal jou leer deur Sy Gees en Hy doen, Hy is getrou.
Ek het eers na Sy fisiese lewe hier gaan kyk, wat het Hy gedoen wat ek kon probeer navolg en die volgende gevind:
Hy het Hom laat doop,
Hy het vroeg soggens voor ligdag uitgegaan om te bid,
Hy het die siekes genees,
Hy het bose en onreine geeste verdryf, die bose bestraf,
Hy het dooies opgewek,
Hy het die evangelie verkondig,
Hy het op die water geloop,
Hy het ’n boom vervloek,
Hy het mense geroep om Hom te volg,
Hy het die natuur opdragte gegee,
Hy het saam met slegte mense verkeer, tollenaars en sondaars, hulle liefgehad, genees en gesëen.
Hy het geen mens veroordeel nie,
Hy het gehuil, oor die mens,
Hy het gebid, vir elkeen van ons tot aan die einde van tyd.
Hy het op die Shabbat in die sinagoge gepraat,
Hy het op die Shabbat goed gedoen,
Hy het bloed gesweet,
Hy het mense se voete gewas,
Hy het mense gevoed, nie net met brood en vis nie, maar met Lewende Brood en Lewende Water.
Hy het mense vergewe,
Hy het seën en lewe gespreek,
Hy het mense bestraf, die fariseërs en die skrifgeleerdes, die wat in oordeel gestaan het,
Hy het die feesdae van die Vader onderhou,
Hy het die Wet onderhou,
Hy het die Nagmaal ingestel en gebruik,
Hy het Sy Vader verheerlik,
Hy het tempelbelasting betaal.
Hy het Sy dissipels bemagtig,
Hy het gevas in die woestyn,
Sy dag het begin met sononder en ge-eindig met sononder.
Wat ’n wonderlike voorbeeld vir Sy kinders om na te strewe, nie dat ek as sondige mens enigsins naby Sy Volmaaktheid sou kon kom nie.
Maar op die lysie wat ek gemaak het van die dinge wat Yeshua gedoen het as mens, het ek begin kyk hoe ek dit in my lewe en wandel kan inpas en was verstom toe ek ontdek dat alhoewel jy struikel in sommige want jy is vlees, kon ek ʼn groot deel daarvan, die meerderheid, sonder enige moeite, verdriet of probleme in my daaglikse wandel inpas.
Ek het my laat doop, wat ’n wonderlike ervaring.
Ek het hier wyd gesoek en diep gegrawe vir antwoorde, die doop word ongeveer 80-90 keer in die Nuwe Testament aangespreek, die groot doop en die redes daarvoor.
Daar is geen melding op enige plek in die HELE SKRIF van klein doop nie, niks, nada, ziltch. Dit het sy oorsprong in afgodediens, dit is mensgemaak, verleiding, misleiding, dit is onskriftuurlik.
Gaan soek maar op die Internet, die inligting is vryelik beskikbaar, doen die moeite om vas te stel waarvoor die klein doop staan, wat jy laat spreek oor daardie kindjie, watse binding jy op daardie kind se lewe plaas.
Gaan soek dit, dit is alles daar, ek het die kennis maar het jy dit? Ek is geleer deur my vorige meester kennis is mag, ek weet kennis is mag, vandag tel hierdie les nogsteeds vir my, die vrees vir jou Skepper is die begin van Wysheid en kennis van die Allerhoogste is verstand.
Ook, soos Hosea sȇ: Soos jy die kennis verwerp, so sal Ek jou verwerp en jou nageslag en jy sal die priester amp nie bedien nie, en hier word ook gepraat van die kennis van die lokvalle en strikke van Satan, ek meen hoe gaan jy oorlog toe sonder dat jy eers die vyand se strategie bestudeer het, hoe hou jy hom buite jou lewe as jy nie weet wie hy is, hoe hy doen en lyk nie?
Vra dan wat is ʼn binding, lees op die Internet, doen navorsing en vind uit vir jou self. Ek het hulle baie op mense geplaas in my lewe as okkultis / satanis, was ʼn sterk wapen in my donker arsenaal wat ek baie keer gebruik het deur woord en daad met groot sukses.
As ’n skrifgeleerde vir jou sê die kleindoop is skriftuurlik, laat hom jou dan wys waar die geskrywe staan in die Geesgedrewe Woord en as jy dit kry, stuur dit asseblief onmiddelik vir my, ek sal ’n reuse artikel skrywe en dit baie wyd versprei en nederig om verskoning vra.
Selfs in gesprek met ’n teoloog en ’n predikant kon hulle hierdie stelling van my, ’n kind in skriftuurlike kennis teen hulle gemeet, nie weerlê nie, hulle kon my nie verkeerd bewys nie, hulle het geen voet om op te staan nie.
Die Gees van Waarheid sal altyd sëevier bo die mensgemaakte leuens en verdraaiing van die Skrif. So belowe Abba Hy sal in daardie uur wat jy voor die leuenaars kom, jou bystaan deur Sy Gees en die woorde in jou mond lȇ, jy hoef nie te wonder of te beplan, vertrou en luister na die Stil Stem binne en ek prys Hom want soos Hy belowe, so is dit.
Ek bid voor ligdag
Ek bid voor ligdag, so gereeld as wat ek kan, verrykend vir my siel, die stilte van die oggend, die Teenwoordigheid so groot, tasbaar, voelbaar. Daar is net daardie gewyde atmosfeer die tyd as die môrester opkom van hierdie Teenwoordigheid, asof die skepping sy asem ophou, stil is voor Hom wat alles geskape het.
Probeer dit, jy sal dit weer en weer wil doen, so stil wees saam met Abba Vader terwyl die gevleueldes, so een vir een hulle verwelkomingslied vir die nuwe dag uit Sy hand loof en prys totdat die lig tril met hulle vreugdeslied.
Ek bid vir die siekes.
Ek vra vir elke sieke, liggaamlik of geestelike sieke, dat Sy wil in hulle lewens geskied soos Hy hulle vir my bring, fisies of deur die gees onder gebed of deur ’n e-pos of ’n sms of telefoonoproep, my lysie is laaaank met tye.
Ek spreek die bose aan in Sy Naam.
Ek bestraf die bose magte in Sy Naam, luid, sodat hulle kan hoor in Wie se Naam ek hulle aanspreek, Wie die Een is wat my bemagtig en hulle vlug voor daardie Naam.
Met my eie oë het ek hulle al menigkeer sien vlug voor daardie Naam, ek vra nie jy hoef my te glo nie, ek deel net met jou my ervaringe, van die dinge daarbuite wat vele nie kan of wil sien nie, en die spreek ek sonder enige oordeel van enige aard.
Ek verkondig Sy evangelie na die beste van my menslike vermoë en begrip.
Ek probeer, ek probeer so hard, ek sing my lied van verlossing so hard as wat ek kan, vra ore hoor my, oë sien my, ek is ’n wonderwerk van Sy hande. Ek is ’n lewende getuie van Guns en Liefde, sien die wonder van my verlossing raak, die grootsheid van Sy onbeskryflike Liefde.
Ek roep na mense om Hom te volg.
Met die kennis wat ek het, met die pad wat ek gekom het, met al my krag, roep ek na mense om Hom te volg, soveel keer as ek kan, so hard as wat ek kan.
Ek sit saam met sondaars en tollenaars.
Ek gaan in hole en gate, verkeer met almal en alles daar waar Hy my vat en dit is hartseer om te sê, maar wat ek sê is waar, daar is meer honger mense wat bereid is om te luister.
Meer wat bereid is om die Lewende Brood en Lewende Water te eet en te drink te vinde onder hulle as onder mense wat hulself “Christene” noem, hartseer maar waar, ook die deel ek sonder enige oordeel, ek deel slegs gewaarwordinge soos ek hulle ervaar.
Ek druk hulle vas en ek huil saam met hulle oor hulle pyn, hulle wanhoop, hulle vrae, hulle hoekoms en hulle soeke en daar waar ek geroep voel, daar sit ek Sy saad neer en vra as dit Hom behaag, dat daardie saadjie groei en gedy in Hom en tot Sy eer en Sy glansrykheid.
Ek oordeel geen mens nie.
Ek het geen oordeel in myself oor nie, van die tyd dat ek moes staan as my eie regter het ek geen oordeel in my psige oor nie, die oordeel kom my nie toe nie, Yeshua het gesê, die Woord wat tot ons gespreek is sal oordeel en Hy sal kom oordeel in die laaste dag en my loon is by Hom soos joune daar is.
Ek huil
Ek huil, nogsteeds, baie trane, nou oor die vreugde en die wonder van Hom en oor die pyn van ander, ek het nou ’n hart van vlees, gevul met Sy Gees en ek prys en loof Hom daarvoor elke dag.
Ek voel nou ander se pyn, ander se lyding, dit raak my op ’n baie diep manier, en ek verstaan nou as Hy sê, een Liggaam, een Gees, so as ek hier deur die werfies gaan op die Internet en ek lees die seer en die smart en die lyding, huil ek, soos mens by my sit, kan ek huil, ek sê dankie daarvoor, die trane los blomme in hulle pad, welriekende blomme, dis wonderlik om ’n mens te wees om te kan voel. Vir so vreeslik lank, 40 jaar was ek so verlore, dood en blind en kyk mense, ek lewe!
Ek onderhou die Shabbat.
Van Vr/dagaand sononder tot S/terdagaand sononder, ’n spesiale dag, ’n afgesonderde dag, ’n geseënde dag, ’n dag gemaak vir die mens om tyd te spandeer saam met sy Skepper, om te rus onder Sy tent van vrede, om myself te verkwik en te versterk, by Sy voete te sit, stil te wees.
Die Shabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Shabbat nie, reg in die begin. Dit is nie ’n afgesonderde feesdag slegs vir die Jode nie, dit is vir ons gemaak, Sy kinders en Hy sê vir ons Hy is ook die Meester van die Shabbat.
As jy jouself sien as ’n erfgenaam, nageslag van Avraham, Yitzak en Ya’akov, as jy glo die morele Wet van ons Skepper staan vas, is dit jou erfenis, ’n vaste gebod, jou plig, ’n duidelike opdrag, jy moet die Shabbat onderhou, die sewende dag, nie die eerste dag van die week nie.
Ek praat en deel my powere kennis van Hom op die Shabbat soos die geleentheid daar is, of ek dit doen deur ’n artikel oor Hom te tik, of ek dit deel met mens in die vlees, ek probeer na die beste van my menslike vermoë, op allerlei wyse om so met ander my vreugde te deel soos ek elke dag poog om dit te doen
Hier het ek ook kop gestamp met die teoloog en die dominie asook een gevalle pastoor, hard kop gestamp en weereens kon hulle my woorde nie skriftuurlik weerlê nie en het die stryd opgegee, want hulle het geen voet om op te staan nie.
Ek meen hoekom is Yeshua self besorgd oor ons en spreek dat ons moet bid in die LAASTE dae dat ons vlug nie op ʼn Shabbat is nie? Van wie het Hy dan hier gepraat wat die Shabbat steeds onderhou in die LAASTE dae?
Die Gees van Waarheid sal altyd seëvier oor die dienaars van die donker. Hy gebruik jou en my as Sy instrumente om die ewige waarhede bloot te lê sodat elke oor wat dit hoor en elke oog wat dit sien dit kan verstaan, in eenvoudige simpel woorde.
Ons Skepper is nie gekompliseerd nie, diens en toewyding aan Hom is ook nie gekompliseerd nie, gehoorsaamheid aan Sy Geesgedrewe Woord is nie gekompliseerd nie, dis eenvoudig, so eenvoudig dat selfs ’n kind dit kan nastrewe en doen met begrip en insig.
Die mens, die sinodes, die rade, die skrifgeleerdes, die dominies, die pastore, die leraars, die professore, die geleerdes, die rabbi’s, die slimmes, die menslike interpretasie, die eie ek maak Hom vir die mens gekompliseerd, baie van hulle rol klippe in die pad van Sy kinders wat opreg soek na Hom, tot dit staan geskrywe in die Woord.
Van die klippe word so baie van gepraat, gaan lees maar van die fariseërs, die skrifgeleerdes, die wit gepleisterde grafte, die vals leraars, die wat sit in die voorste gestoeltes, Hy waarsku ons oor en oor en oor, wanneer gaan ons luister?
Die Shabbat staan, soos die Wet. Dit staan vas, die sewende dag. Die dag waarop die meerderheid van gelowiges vandag se dae aanbid, is ’n afgodsfeesdag, net soos die kersfees en die paasfees, ingestel deur ’n mens vir hulle eie donker doeleindes.
ʼn Bose huwelik tussen die okkulte, die afgodediens en die gelowiges met sy eie bitter oes wat wag om gepluk te word. O my Vader kom ons ongeloof te hulp, help U kinders, leer en lei soos U belowe het.
’n Goeie plek om te begin soek is die offisiële webwerf van die Roomse Katolieke Kerk, daar staan ’n paar menslike waarhede geskryf wat jou na jou asem sal laat snak en uitsprake deur die mens, hoe mens homself verhef bo Sy Skepper, ek daag jou hier uit, gaan lees en raak wys. Dink dan ook na oor hoeveel van hierdie menslike “waarhede” deur die Protestante oorgeërf is.
Gaan soek maar, jy sal geen Skrif kry op enige plek wat die sewende dag vervang met die eerste dag van die week nie, dit bestaan nie, en ek het nuus vir julle, al wat protestantse kerk is erken dit so ook die roomse, maar mens se wil SAL op jou afgewing word.
Hoor my lied, ek goed geskoolde eks okkultis / satanis sȇ hulle gaan baaaie sukkel met hierdie vrou! Dit is verander deur mens vir sy eie donker doeleindes en sovele word aan die neus gelei, mislei, verwar en verblind deur hierdie dienaars van ek wonder wie. Ek wonder wie dien hierdie mense? Ek wonder net, ek oordeel nie, hoor my mooi, ek wonder net, mag mos of hoe?
Gelowiges, julle wat opreg soek na julle Skepper, wat Hom aanbid in alle opregtheid, wat Hom soek met julle alles: hoor wat ek julle vandag sê, ek, ’n vrou wat uit die donker kom, julle moet die Shabbat onderhou, die Shabbat is deel van die Wet en Hy sê, as jy een gebod breek, staan jy skuldig dat jy almal gebreek het.
Draai julle rug op mensgemaakte wette, draai die rug op TRADISIE en mensgemaakte interpretasie van Sy Geesgedrewe Woord, soek en julle sal kry. Sy ewige waarhede en Sy ewige insettinge, hulle almal staan geskrywe, swart op wit, lees net dit is daar, jy wat hier lees. Jy het die Internet, gebruik dit om jou Skepper se waarhede te ontdek, die waarhede wat die wêreld so hard poog om te verdoesel.
Soek, alles is daar ook, berge en berge inligting wat jou insig en begrip van jou Skepper sal verbreed en verdiep, en vergroot en jou in verwondering sal laat staan oor die mens se vals indruk van wie hy is. Glo my, die mens is niks in eie reg nie, jy en ek is ’n skaduwee teen die muur, ’n vlietige oomblik, die knip van ’n oog en ons staan op in rebellie teen Hom wat ons geskape het?
Ongehoorsaamheid is rebellie en rebellie is afvalligheid en AL die dinge is sonde en enige sonde my vriend is ongehoorsaamheid aan die Torah, dit staan geskrywe, lees dit maar.
Ek vra so baie keer vir gelowiges wyl in gesprek met hulle, as ons Skepper vir ons sê, Hy is dieselfde, gister, vandag en môre, wat beteken dit? En as hierdie Skepper vir jou, Sy kind, sê “Hierdie is ’n EWIGE INSETTING” wat julle deur julle geslagte sal hou, wat beteken dit?
Wanneer het die ewigheid dan opgehou, wanneer het die geslagte dan opgehou, wanneer het tyd gaan staan? Hy het ’n opdrag gegee, Hy is ons Koning, ons is Sy kinders, ons moet LUISTER as Hy praat.
As ons in Sy huis wil bly, as ons by Hom wil skuil, as ons Hom aanroep as Koning, as Verlosser, moet ons by die reëls hou of hoe. Vir my is dit deur Sy guns maklik, dis die huisreëls van my Vader se huis en ek wil by Hom aanbid, bly en skuil, so ek strewe my hart uit om by die reëls te hou, al val ek menigte kere, so tel Hy, Sy kind weer op omdat Hy my lief het.
Ek vergewe en spreek vry
Ek vergewe onmiddelik, ek spreek vry onmiddelik, ek dra geen haat, nyd, wrokke of woede nie.
Deur hierdie negatiewe emosies maak jy poorte oop in jou psige waardeur jy jou ooplê aan Satan en sy dienaars, hulle besmet altyd emosionele wonde, hulle is eksperts daarin, as jy hierdie dinge in jouself koester, hou jy die slang in jou boesem en hy gaan jou pik so seker as wat die son vanoggend opgekom het.
Ek spreek seën en lewe.
My tong wat vir die grootste deel van my lewe slegs vervloek en gevloek het, die ding in my mond, die kleinste ledemaat, ek bid dat Abba Vader hom vir my beheer, want ek weet ek kan nie.
Ek probeer slegs seën en lewe spreek met hierdie klein ledemaat, probeer om hom slegs ten goede aan te wend en nie ten kwade nie.
Hierdie was een van my moeilikste lesse, dit was en is afgryslik, die stryd tussen my en my tong, want O wee, hy was vir soveel jare onbeheersd in beheer.
Vandag, deur die guns, krag en seën van my Vader, is ek darem al driekwart van die tyd bo-op my tong, en die stryd gaan aan, maar ek klou verbete met alles in my aan die krag wat in my lê, waarmee ek geseën is, ek bestraf die bose, ek bestraf my eie tong in Sy Naam.
Ek bestraf nie en ek oordeel nie
Ek bestraf nie mens nie, ek is nie volmaak nie, het nog nie daardie vrymoedigheid nie, ek kyk net wat die mense rondom my doen en ek leer en ek weet ek raak wyser en wyser, slegs deur Sy Guns, nie meer verblind, ek kan nou sien, dankie my Vader vir hierdie onbeskryflike vrede en vreugde wat meer en meer raak binne my.
Ek is te versigtig dat mense sal dink ek staan in oordeel, want ek weet dat soos jy oordeel, sal jy ge-oordeel word en ek is mens en ek weet ek is sondig, ek is vlees.
As jy my vra of iets sonde is volgens my eie oortuiging sal ek jou eerlik antwoord, skriftuurlik probeer oortuig,maar ek bly stil die res van die tyd, Abba sal my help as dit in my moet verander, soos Hy my help reg van dag een af.
Ek onderhou die Vader se voorgeskrewe feesdae.
Soos reeds gesê, wanneer het die ewigheid opgehou of die geslagte, as iemand my hier kan wys waar en wanneer dit opgehou het, skriftuurlik, sal dit my verbly en weereens sal ek nederig ’n publieke apologie doen.
Die ewige insettinge soos gespreek in die Geesgedrewe Woord staan vas, ons Koning YHWH, het dit gespreek en ons moet luister, dit is so eenvoudig.
Ek loof my Skepper
Ek verhef en loof en prys my Skepper soveel as ek kan, in al die opregtheid wat nou in my hart woon, met my alles loof ek. Geseënd is Hy!
Ek onderhou die Wet.
OORTUIG MY ASSEBLIEF SKRIFTUURLIK DAT DIE WET VERVAL HET, EK SOEK MY OP NA DAARDIE SKRIF EN KRY DIT NIE. NIE EERS DIE TEOLOOG OF DOMINIE KAN DIT VIR MY GEE NIE, WAT GAAN AAN HIER? WATTER LEER VERKONDIG HULLE DAN?
Vir my, wat is die Wet wat ek onderhou, my begrip? Die volgende begrippe is die laaste paar jaar vir my geleer, ek is seker daar is nog te leer, maar die kennis en begrip sal kom op die regte tyd soos ek geestelik volwasse raak en groei, ek is 4/4/2011, vier jaar lank Sy Kind, prys en dank ek Hom daarvoor.
Ek onderhou die Tien Gebooie, insluitend die Shabbat.
Ek strewe om die gebod van die Liefde te onderhou.
Ek vermy onrein kosse, ek eet nie kosse wat ek weet op ’n afgodsaltaar ge-offer is nie.
Ek vermy waar moontlik om die onreine aan te raak.
Ek raak geen dooie aan nie.
Ek eet nie bloed of vet nie.
Ek dra die tzitzit.
Ek poog om ’n rein kamp te hou, geen gruwels op my eiendom te bring nie, toe te laat nie.
Ek vier die ewige insettinge feesdae.
Ek ken Sy Naam, ek ken Sy Seun se Naam en ek gebruik dit.
Ek bely my Verlosser, Yeshua voor die mens, soos my sondes, sodat Hy my kan bely voor my Vader en Sy engele.
Ek vermy die spreek van afgodsname waar moontlik.
Ek gebruik die nagmaal.
Ek vrees my Skepper.
Ek loof en verhef Hom, want daarvoor is ek geskape.
En ek aanbid met ’n bedekte hoof.
So maklik, so ongekompliseerd, so simpel, so bevrydend, so eenvoudig, so maklik, wat kan ek sê? In vergelyking met dit wat voorheen op my was, is hierdie waarlik ’n ligte las wat ek dra, met ’n lied in my hart, uit eie keuse, ek het gekies, ek het standpunt ingeneem ek is vervuld en tevrede, ek het ’n nuwe lied in my hart, in my wese.
Hierdie vreugdeslied sing my siel vir my Skepper want o wee, ek is vals verby en ek weet en glo en vertrou dat Hy my siel se lied hoor met dieselfde vreugde as wat ek dit sing.
Die vrot vrag wat ek in my ou lewe gedra het, die reëls en die regulasies, die baie moets en moenies, die ewige voorgee, die geknoei en die gelieg, die bose plannetjies, die vrees vir mens wat hulle gaan sê of doen en die vrees vir Satan en wat hy volgende aan my of my kinders gaan doen, die konstante wanhoop, depressie en sielepyn, alles weg, skoon, heel, vergewe, ek is vry, ek is waarlik vry.
Ek weet vandag hier waar ek sit, ek is in die wêreld maar nie meer van die wêreld nie, ek vrees geen mens nie, geen demoon of bose gees, geen Satan, ek vrees niks en niemand nie, ek vrees slegs my Skepper en ek weet Hy kom.
Ek weet ek is beklee met die nuwe mens, ek weet Hy is getrou, ek weet Hy laat Sy kind nooit beskaamd staan nie, dit is vir my lekker om gehoorsaam te wees, dit is vir my lekker om Hom aan die stuur te hê van my lewe, elke aspek van my lewe, alles is oorgegee want Hy sê vir ons “Ek is ’n jaloerse Elohim”, Hy wil jou alles hê, totale oorgawe.
Dit is vir my lekker op my bekommernis op Hom te werp, want waarlik soos Hy spreek so is dit, Hy versorg my na elke behoefte, Hy leer my en Hy lei my, Hy seën my, Hy koester my, Hy beskut en beskerm my omdat ek Sy Naam aanroep in geloof en vertroue.
Hy is getrou, Hy veg die geveg vir my, wie sal ek dan vrees en waaroor sal ek vervaard raak? Sy wagte staan op my mure, Sy engele omring my, Hy hou my poorte styf gegrendel, Hy trek ’n laer van Vuur rondom my, Hy is my Lamp en Hy is my Lig.
Ek gebruik die Nagmaal.
Hy wat My vlees nie eet en My bloed nie drink nie, het die lewe nie in hom nie.
Hierdie woorde staan geskrywe, dit sê genoeg, ek hoef nie daarop uit te brei nie.
Ek verhef my Vader
Hy is my Eerste Liefde, bo alles bo almal en dit sluit my kosbare nageslag in en ek sing my verlossingslied en ek praat, skryf probeer my hart uit en ek weet Hy weet dit want ek ervaar Sy talle seëninge elke dag van my lewe.
Ek betaal my belasting
Hy het tempelbelasting betaal.
Alles wat ek het is Syne wat ek aanwend soos ek gelei word, geen sent stort ek in die wȇreld se kerke se koffers nie, myne word gestort in die Liggaam van die Lewende Gemeente.
Hy het Sy dissipels bemagtig
Hoe is ek nie bemagtig deur Hom nie, geen woorde het ek om te beskryf dit wat ek ervaar nie, dit wat ek sien en doen nie, die Almag en die Glansrykheid van dit wat ek ervaar, onbeskryflik, my taal het nie genoeg woorde nie.
Hy het gevas in die woestyn
Ek vas vir een volle dag per week, elke week, nie omdat ek moet nie, maar omdat ek wil, op daardie dag onthou ek waar Hy my gaan haal het en ek dank Hom weer en bind myself aan Sy wil vir my, vra lei, leer, vorm, brei en louter my sodat ek onbesmet kan staan voor U Troon en ek loof Hom met my wese.
Sy dag het begin met sononder en ge-eindig met sononder.
Soos myne ek het geen probleem met die oorskakeling gehad nie.
In my pad die laaste paar jaar het ek verskriklik baie geleer van Yeshua en soos my verhouding met Hom verinnig het, het ek met ander oë na Hom begin kyk. Ek het as mens probeer om myself in te dink hoeveel pyn en smart Hy dra vir ons, wat Hy deurgegaan het vir ons, wat Hy opgeoffer het vir elkeen van ons, sodat ons gered kan word.
M.a.w ek het vir een millisekonde probeer om in Sy skoene te staan, ek weet ek kan nie, maar ek het probeer en ’n intense seer oorval my elke keer as ek lees in die Skrif waar Hy huil, waar Hy vir ons bid, Sy kinders en my trane loop, trane van dankbaarheid vir Hom, vir Sy Liefde en Sy groot hart wat plek het vir elkeen se pyn en elkeen se seer.
Hy is verwerp
Hy is gevloek
Hy is geslaan
Hy is ’n leuenaar genoem
Hy is beskuldig dat Hy van die bose besete is
Hy is gespuug in die gesig
Hy is verloën
Hy is gehoon en uitgelag
Hy is versoek deur Satan
Hy is aan ’n folterpaal vasgespyker.
Hy het gelewe en gesterwe vir jou en vir my.
Hy het opgestaan uit die dood.
Hy het die poorte van die hemel vir ons almal oopgeskeur met Sy lyding en met Sy kosbare Bloed het Hy ons elkeen vrygekoop.
Hy het die prys betaal.
Hy, Yeshua, geseënd is Hy, was YHWH se geskenk aan die mens, ons moet net daardie geskenk aanneem by die voet van die stauros, dis ons erfenis.
O my Vader geseënd is Hy en elkeen wat daardie geskenk uit ons Skepper se hand aanneem!
Ek het gedink as mens deel ons soveel seer en lelik en smart met Hom, maar deel ons ooit die vreugde van die lewe met Hom, deel ons die wonder van Sy skepping met Hom, die mooi van ’n blom, die reuk van ’n roos, ’n vars gebakte brood of koffie op die oggendbries, die klank van mooi musiek, die golwe wat breek teen die rotse, wind wat huil om die hoek, ’n drukkie van iemand wat omgee, die volmaaktheid van alles wat Hy geskape het.
Nee, ek het dit nie gedoen nie, ek sê dankie vir hierdie dinge, maar ek het dit nie met Hom gedeel nie. Dit het my laat skuldig voel omdat ek net dankie sê maar nie deel nie, net altyd my eie seer en sondes voor Hom neerlê.
Van daardie dag af dat ek hierdie gewaarwording gehad het, het ek begin om alles met Yeshua te deel, as ek in ’n soet ryp vrug byt, as ek ’n mooi blom sien, of kyk na die maan en die sterre, of die prag van die veld, berge en die see, die sand van die woestyn, die kleure so keurig bymekaar gevoeg in die natuur, die soet reuk van ’n baba se nekkie, alles.
Alles deel ek nou met Hom, selfs die smaak van ’n bakkie poeding, die vlamme van ’n vuur, die gesing van ’n voëltjie wat Sy Skepper prys, instinktief omdat die voëltjie weet waarvoor hy geskape is, om te eer die Een wat Sy Skepper is te verhef, nes jy en ek.
Ek vra vir Yeshua om saam met my te geniet en te ervaar en te sien soos ek as mens dit geniet, ervaar en sien deur my menslike sintuie, ek nooi Hom altyd uit om te deel, proe, ruik, hoor, voel, so sê ek ook lees saam met my wanneer ek julle werke so lees op Woes en elders, en ek sê in die proses met my hart vir Hom dankie daardeur dat Hy die goeie sowel as die seer en die sleg met my deel, altyd daar is vir my, my nooit sal versaak en my nooit sal verlaat nie.
’n Vriend leer my iets so verskriklik mooi, hy sê vir my, steek jou hand uit en sprei jou vingers oop, kyk, tussen jou vingers is net leë spasies, dit is al wat jy sien met jou mens oë, maar weet, glo en vertrou dat Sy vingers deur joune gevleg is, dat jy nooit alleen is nie.
Dit is wonderlik om net te wees saam met Hom, soos nou, ek tik, die voëls gesels en loof hulle hartjies uit hierbuite my stoepie, hul besoek hulle eetplekkie druk so op die middagete, en ek weet Hy is hier, nooit is ek alleen nie.
Hierdie konstante tweegesprek en deel het ’n wonderlike effek op my psige, ek is bewus van Sy teenwoordigheid, my borrel blydskap hier binne myself raak net groter, so ook my vrede.
Vir elke mens wat hier lees, vra ek, maak Hom jou Vriend in die goeie en nie net in die slegte dinge van dit wat ons mens maak nie, dit verryk jou siel, dit trek jou elke dag nader aan Hom en jy sal vind dat Hy jou oë open om meer en meer van die wonders rondom jou raak te sien.
Vat tyd, sit rustig saam met Hom en laat Sy vrede deur jou wese spoel. Daar is niks so vervullend nie, al kyk jy net vir die lewe deur die tralies voor jou venster, deel dit met Hom, die mooi daarbuite. Deel die dinge wat ’n soet smaak in jou wese laat en ’n aangename geur, op die wind uit Sy hand, vir jou bring en onthou alles is van Hom, deur Hom en weer tot Hom.
Luister na Sy roep, hoor wat Hy vir ons sê, hoor Sy klop aan jou deur, Sy kinders, Hy roep so hard en so duidelik na ons, soek Sy waarhede een vir een en wees gehoorsaam aan Hom wat jou en my geskape het. Draai jou rug op die wêreld en sy g/d, die boosheid van hierdie eeu, die materialisme, die afgodediens, die okkultisme, die satanisme, die eie ek, die wêreld se drek.
Sonder jou af van die wat nie wil hoor nie, die wat nie wil sien nie, die wat oorgegee is aan hulle eie begeerlikheid en soek na Hom, YHWH Yeshua met alles wat jy is en het, Hy sal Homself aan jou openbaar as jy opreg soek in geloof en in vertroue, dit staan geskrywe, dit is ’n belofte wat vas staan.
Draai jou rug op oorgelewerde tradisie, die wette en bande en gelofies van die ou mense. Dis nie te sê as Oupa en Ouma of ma en pa dit gedoen het dat dit REG is nie, SOEK na Sy opdragte en Sy Waarheid en vergeet die gisters, hulle is verby en begrawe, die verskoning, ja maar my voorgeslagte het so gedoen, gaan nie veel tel vir ʼn antwoord op die dag van afrekening nie gaan dit?
Dink jy Hy gaan daardie verskoning aanvaar, wanneer Hy kom as jou Regter, Hy wat jou geskape het met intelligensie en gesonde verstand, jy wat kan lees en dink en doen vir jouself, wat gaan jou antwoord wees as dit kom by die vraag oor tradisie en ander mense se interpretasie van Sy Woord en opdragte? Hoekom het jy hulle nie SELF gesoek nie?
En ek sê weer, moenie my glo nie, toets wat ek sê teen die Skrif, weet ek staan nie in oordeel oor jou en hoe jy glo nie, weet jy het die vryheid van keuse by Hom, weet dat ek slegs my eie keuses, my eie waarheid deel met jou, ek vra nie dat jy dit moet glo of toepas in jou eie lewe nie.
En as jy my skriftuurlik verkeerd kan bewys, doen dit asseblief, ek sal ’n nederige publieke apologie aanteken en jou dank daarvoor wat Hy gebruik die een mens om die ander een te slyp.
Ek soek opreg, as jy my kan help in my eie soeke sal ek net dankie sê, en loof en prys vir dit wat jy my gee. Want Hy vermoei Hom met diegene wat soek, opreg soek.
Vandag het ek as mens die begeerte om Sy gebed wat Hy vir ons gebid het met julle te deel, kyk wat bid Hy oor ons, Sy kinders, kyk en lees en verstaan met elke woord hoe lief Hy ons het.
Dankie Abba dat U, U kinders versamel onder die tent van U vrede...Amein
Vrede vir jou wat hier lees, en vreugde en blydskap bid ek jou toe as deel van jou erfenis in Hom.
YHWH Nissi, Hy bly my Banier en my Oorwinning teen die magte van chaos!
© Mahdokt Walter
Verbondslaaf van Yeshua Ha Maschiach
Opgestel 4/2009
Hersien 1/2011
Joh 17:1-26 (Ou Afr Vertaling E-Sword)
(1) Dit het Yahshua gepraat, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verhoog U Seun, sodat U Seun U ook kan verhoog -
(2) soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.
(3) En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die een, waaragtige Elohiem, en Yehshua die Messias wat U gestuur het.
(4) Ek het U groot gemaak op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek vervul.
(5) En nou, Vader, verhoog My by Uself met die grootheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.
(6) Ek het U Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het U woord bewaar.
(7) Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom.
(8) Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.
(9) Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.
(10) En alles wat myne is, is Uwe; en wat Uwe is, is myne; en Ek is in hulle verhoog.
(11) En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Afgesonderde Vader, bewaar in U Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons.
(12) Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in U Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die vernietiging, sodat die Skrif vervul sou word.
(13) Maar nou kom Ek na U toe; en Ek sê hierdie dinge in die wêreld, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê.
(14) Ek het hulle U woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.
(15) Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.
(16) Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.
(17) Sonder hulle af in U waarheid; U woord is die waarheid.
(18) Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.
(19) En Ek sonder Myself af vir hulle, sodat hulle ook in waarheid afgesonder kan wees.
(20) Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo -
(21) dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.
(22) En Ek het hulle die grootheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.
(23) Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.
(24) Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my grootheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.
(25) Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken, en hulle hier het erken dat U My gestuur het.
(26) En Ek het U Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle...Amein
Lukas 8 tot 10
Johannes 13 tot 15